28 June 2021

Ons groet Namibië

Ons is tans in Chobe natuurreservaat by 'n vriend van n vriend, besig om te wag vir 'n ratel wat dikwels by sy huis kom hallo sê. Toe ons koffie drink op die stoep vanmiddag het daar olifante verbygestap, en die rooibokke drink graag water by sy 'visdam'. Dis die eerste dag van ons tweede land op die trip, Botswana. En die eerste keer wat ons in n gewone bed slaap in n wyle.

Grensposte kan interessant raak, maar ons is sonder moeite deur, behalwe vir die twee covid neustoetse - een vooraf, en dan nog een wanneer jy Botswana binnekom. Alles was gelukkig negatief. Daar was ook n baie negatiewe 2-jarige wie se ma haar moes vang vir haar toets by Katima Mulila. En ons oë het maar bietjie getraan van daardie wonderlike toetse en hoe bly ons was om te kan travel.

Ons laaste week in die noorde van Namibië was in vele opsigte anders. Uit n skilder se oog is die landskappe nie so majestieus en treffend soos vroeër nie. Die horison is 'nader' en bebos, die paaie is vuilgrys en daar is minder berge en koppies. Maar dis anders mooi - mens soek die mooi in kleiner detail van die landskap, in 'n byevreter op n doeie tak, of die blink van die water as n seekoei skielik deur die lelies breek.

Dit gaan goed in die huis op wiele. Ons het verder aan ons paksisteem gewerk, nog oorbodige kampgoed weggegee en beter in die roetine van kamp op- en afslaan gekom. Hier en daar was stukke teerpad lank en vervelig, en August het my op die agtersitplek laat slaap. Maar daar was ook baie om te sien en baie hoogtepunte. Al is die maande van Junie en Julie die droeë seisoen is daar nou heelwat meer water, meer mense en meer diere as in die suide. Ons het begin wild kyk in die kleiner, minder bekende parke en was dikwels een van slegs 3 motors by n kampplek. Nkasa Rupala is byvoorbeeld n reservaat wat jaarliks tot 80% oorspoel en die voëls hier was besonders. Ons het ons eerste 'water crossing' met die kar gehad en ek het my eerste wildkamp ervaring gehad waar daar geen grense tussen ons en die diere was nie. Ek was super gespanne, maar dis n regte 'feeling alive' ervaring. Jou sintuie is verskerp en jy besef hoe klein en weerloos n mens werklik is.

Maar vir nou slaap ons eers bietjie in n baksteenhuis, as gaste by Oom Johan v Jaarsveld wat gidse oplei by Chobe game lodge en baie kennis besit oor die natuur en die Botswana omgewing. Ons geniet sy stories en lewenservaring, en veral die staaltjies oor wat die buitelandse toeriste alles aanvang by die lodge, soos die een wat in sy wit japonjas afgestap het rivier toe, ingespring het en rustig vir die angsbevange personeel gesê het hy WIL nou swem.

Ons hoop om vir n paar weke hierdie mooi land te verken, en dan te besluit waarheen volgende.

Groete uit Chobe,
Ydi en August

No comments:

Post a Comment

Still coming home

Coming back seems to take a while emotionally. We miss the slowness and the simplicity of things - not rushing off to finish self-inflicted ...