20 July 2021

Twee maande op die pad - ons groet Botswana

Ons bevind onsself in 'n dorp genaamd Palapye (uitgespreek Palapie) in die sentraal-oostelike deel van Botswana. Die Dieners woon al 5 jaar hier, waar Coos by die universiteit van wetenskap en tegnologie (BIUST) as lektor werk. Met hul twee kids (3 jaar en 7 maande) is dit vir ons, ná amper twee maande alleen in die kar, iets heeltemal anders - 'n kleurvolle, besige (!) gesin.

Ná Chobe het ons afgetoer deur die Okovango delta en die laaste week in die Makgadikgadi panne spandeer. Ek was self nog nooit in Botswana nie alhoewel baie van die plekname (Moremi, Maun, Third Bridge), so te sê deel is van die populêre verbeelding, was dit vir my in baie opsigte anders as wat ek voorgestel het. Ons gebruik die lang stukke in die motor om op te lees oor waarheen ons gaan, die geskiedenis van die plekke of fauna en flora wat ons kan verwag. Vir my is dit lekker om die radio aan te sit in die plaaslike taal, die plaaslike kos te probeer en darem te probeer deel voel van die plek waar ons is, al lyk, en klink, ons hopeloos na toeriste.

Een van ons hoogtepunte was om die cruiser (ons skilpadhuis!) in 'n afgeleë village te los, en met net ons rugsakke in die Delta te gaan kamp. Ons 'poler' Cast, sowel as die jong vrou op die ander mokoro wie ons net leer ken het as 'B', kom albei van die village af, die laaste in 'n ry villages wat met afgeleë bruggies en watercrossings bereik word Cast gesels oor sy lewe, werk, 'poling' en lewe in die village.

Tussendeur hoor mens ander dinge, die skuur van die veselglas teen die papirus of die omflap van waterlelies soos ons deur die kanale wurm. Dan die kraak van waterbuffel of olifant iewers naby in die riete, of 'n groot bruin vleiloerie wat lomp tussen die polle vladder. Ná die poling stap Cast met ons deur die veld. Saggiese voete wat voor loop, enkelmarsjeer oor spore, grasse, mis en modder. Veld wat knars, nou en dan doodstop met sy wakker oë en letsel op sy wang. Ek het nooit gevra waar hy dit gekry het nie. Teen 'n miershoop klim ons op vir n beter view, op soek na die oorsprong van die diep gekreun wat ons al sedert gisteraand hoor.

Uiteindelik vind ons die leeus, wyfies en jonges, soos hul rustig langs die kanaal verby stap, met ons op die oorkant, tjoepstil en verwonderd. Cast kyk verder regs oor die landskap, dan skielik links en fluister dringend 'male lion!' Skerp links van ons, aan ons kant van die kanaal, staan die ou, vier voete na die rivier gerig, waarskynlik om by die res van die trop aan te sluit. Maanhare rooi en groot geel lyf. Nie dik dikgevreet en lui onder 'n boom nie, maar wakker, en majestieus en pragtig. Dis net 5 sekondes voor hy ons raaksien, skrik, omdraai en in die bosse verdwyn. Met ons wat nog besig is om tot vehaal te kom. En dan die wyfies wat ook geruisloos terug in die bos verdwyn, ons teenwoordigheid verklap.

Botswana was vol spesiale wildernis ervarings, en nou ook die spesiale kuier van sandput speel en prentjies teken en beskuit bak en gesels.

Ons beplan om hiervandaan oor te steek na Zambië, die Vic valle te gaan ervaar (Aug was al daar maar ek nog nie) en dan die land noord van die Zambezi bietjie te verken.

Hierdie aanhaling uit een van ons reisgidse het my bygebly:

"Leave home, leave the country, leave the familiar. Only then can routine experience - buying bread, eating vegetables, even saying hello - become new all over again."

Nuut en wonderlik en kleurvol en goed.

Jul kan fotos van die leeu en ander ervarings op Instagram kyk (jy hoef nie self die platform te gebruik nie). www.instagram.com/overlandtrip2021

En laat weet ons asb as jy enige raad of voorstelle vir Zambië het!

No comments:

Post a Comment

Still coming home

Coming back seems to take a while emotionally. We miss the slowness and the simplicity of things - not rushing off to finish self-inflicted ...